“You cannot treat people like garbage and worship God at the same time.” Jy kan nie God aanbid as jy ander soos vullis behandel nie.
- HJ Bestbier
- Mar 12
- 8 min read
by HJ Bestbier

Morele Progressie of verval?
Hoe kan ’n mens se wêreld skuif van sensitiwiteit na afgestomptheid; van sorg na misbruik of van menswaardigheid na onmenslike optredes teenoor ander. Min mense word een oggend wakker en besluit om skielik ongenaakbaar, onbeskof of wre
ed te wees.
Hierdie skrywe is nie bedoel as ’n veroordeling nie, maar dit poog om morele beweging te beskryf - hoe ons siening van mense soms stadigaan skuif en dan iets ontmasker in ons instinktiewe optredes teenoor ander wat verskil van ons waardes en geloofsoortuigings. Op die spektrum van lewenswaardes is daar uiterstes, maar basies is medemenslikheid ‘n gemene deler, en net so is ons geloof in God. Sommiges is nougeset, toegewyd aan God en ander, aan die anderkant van die spektrum, het ‘n respekvolle erkenning van ‘n Opperwese. Tussenin is daar baie variasies.
Vanuit absolute geloofstoewyding, óf respekvolle spirituele erkennings, word ons hantering van mense tog beïnvloed, of gerig. Dus is hierdie skrywe nie ‘n morele les nie, maar poging om ’n tydsame, progressiewe proses wat in die mens afspeel, te beskryf.
Waar kom onmenslikheid vandaan?
Die afgelope maand het ons, saam met die wêreld bewus geword van ‘n magtige netwerk wat waarskynlik duisende babas, kinders en vroue oor ‘n ekstensiewe tydperk fisies, psigies en seksueel wreed mishandel het. Die SABC News Facebook Profile het op 18 Februarie 2026 hierdie boodskap geplaas: ‘A group of United Nations Independent Human Rights experts says the Epstein Files contain disturbing and credible evidence of systematic and large-scale sexual abuse, trafficking and exploitation of women and children that could amount to crimes against humanity.” (https://tinyurl.com/4aaesme2).
Toegewyde gelowiges én beginselvaste, goeie mense, wonder hoe op dees aarde was dit enigsins moontlik? Ons wonder: ‘Hóé kan sulke gedrag bestaan?’ ‘Kan geld, mag en status mense wérklik so “vrymaak” om énigiets met enige kind of vrou te mág doen?’ of ‘Hoe het hulle dáár gekom?’ of ‘Wié is hulle?’
Psigiaters, sielkundiges, sosioloeë, gedragswetenskaplikes, ander wêreldleiers, maatskaplike werkers, terapeute, predikante en enige persoon wat in staat is, begin profiele saamstel. Mense probeer werklik verstaan. Ons soek-lees koes-koes tussen vals berigte; “AI” en “conspiracy” teoretisi, en probeer die waarheid skei van die kaf. Menige se gedagtes gaan terug na tye in die mensegeskiedenis waar ‘n land, ‘n geloofsgroep of politieke stelsel mense afgemaai en miljoene uitgewis het. Maar hierdie is só naby, en terselfdertyd, lankal reeds geliasseer in gedateerde lêers. Ondersoeke is hangende en die wêreld hou asem op, maar (ge)skrifte blyk reeds teen mure.
Perspektiewe en beskouings
Die skrywer van hierdie artikel se oogpunt spruit defnitief vanuit ‘n klinies-pastorale mens- en wêreldbeskouing, maar ook vanuit ‘n Gestalt-psigologies en Neuro-welstandsperspektief. Myns insiens beteken desensitisering van sensoriese bewustheid, die afsluiting van die kognitiewe, konatiewe en emotiewe. Kortliks beteken dit dat die liggaam of senuweestelsel geleer het of stadigaan gekondisioneer is om empatie af te skakel en algemeen menslike morele waardes stil te maak vir iets soos “instant gratification”, of kitsgenot met iemand wat oënskynlik as “waardeloos” beskou word in die breër samelewing.
Mens sou seker dieper en wyer vanuit hierdie perspektief lig kon werp oor die hoekoms en waaroms, en my klinies-pastorale perspektief probeer ook ‘n psigiatries- en teologiese “glimps” gee op die profiel van ‘n persoon wat tot uiters sosiaal onaanvaarbare gedrag instaat is. Psigiatries gesien is daar tipiese profiele, deurdagte prosesse en individuele evaluerings ongeag rykdom, status, ras, klas en geslag, waaraan diesulkes geklassifiseer kan word.
[Prakties]-teologies gesien, is ontmensliking nie ‘n toevallige proses nie, maar die logiese gevolg van keuses. In die laat tagtigerjare het Bybelkor onder andere ‘n Bybelstudie Korrespondensie Kursus uitgegee: Room van Romeine. Daarin word Paulus se brief aan die Romeine sistematies uiteengesit.
Die proses van ontmensliking versus keuses
Ons sien hoe Paulus, in Romeine 1, ’n kettingreaksie beskryf, nie ’n dramatiese Goddelike ingryping of Goddelike strafhandeling nie, maar ’n bepaalde proses. Hy skryf: “Hoewel hulle God geken het, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie…” (Rom. 1:21, 2020-vertaling). Drie keer staan daar dan: “Daarom het God hulle oorgegee…” (Rom. 1:24, 26, 28). Die teks sê nie God het hulle vernietig nie. Daar staan dat Hy, God, het hulle oorgegee aan hulself, aan hul eie keuses — aan die pad wat hulle kies, verkies.
Keuse. Kies – om te kan kies is een van die mees basiese menslike eienskappe waarmee die mens gebore is en groei tot volwassenheid. God weet dit.
God weet die mens hét ‘n keuse en die vermoë om te kies – selfs die keuse om teen Hom te kies. En dus laat Hy toe. Hy laat hulle aan hulself oor. Hy straf nie. Straf is reeds voltrek in Christus se kruisdood. Hy onttrek nie. Onttrekking was voltrek in Jesus se woorde: “…waarom het U my verlaat…” God bly waar Hy is. Die mens kan gaan – as hy wil. Die mens mag terugkom…as hy wil.
Christelik-teologies beskou is ontmensliking nie ’n toevallige menslikheidsontsporing nie, dit is die logiese gevolg van ’n verskuiwing weg van God. Die proses van ontmensliking loop parallel met ’n totaal onderskryfde Godsbeeld - nie omdat Gód verander het nie, maar omdat God na ‘n begrip verskuif is. God, die “idee-van-god”, is gereduseer tot “iets” wat nie oordeel nie, nie inmeng nie en nie sien nie. Die ontgoddeliking van God.
Ongelukkig, en hier is die algemene vraag – hoe ver is ‘n mens bereid om weg te beweeg? Of hoeveel keuses is die mens bereid om te maak om heeltemal, selfs totaal weg van die radar of redelike spektrum van medeménslikheid, te beweeg?
Die Uiterste
In die media-verslae oor die vrygestelde Amerikaanse “Department of Justice”-dokumente rakende die sogenaamde “Epstein Files” (2017 e-poskorrespondensie) word ’n stelling aangehaal waarin gesê word: “God is a construct, but little girls are real.” Hierdie woorde verskyn in privaat epos-korrespondensie wat later openbaar gemaak is. Sien ek reg? Is God, híér – in dokumente gekoppel aan die vergrype aan kinders - uitgelig as die blote “konstrukt” teenoor (die waarskynlike seksuele misbruik van) ‘n kind - as ‘n “werklike” ervaring, gestel?
“Unreal versus real”? Fantasie versus werklikheid? God word die fantasie MAAR klein kindertjies, die werklike?
Hierdie woorde “speel af” in dokumente rakende kindermolestering. In die ontgoddeliking van God kan die mens sien dat God vir hulle ‘n fantasie is – dis hul keuse, maar hóé, of wié, kontrasteer daardie fantasie met waarskynlike kindermoletering, as ‘n waarskynlike verheerlikte (‘worshipped’) werklikheid? Hoe kan ‘n mens kies om God uit te skuif - uit vrye wil, maar kies om weerloses te misbruik én kies om hulle te “dispose of” / weg te smyt om van hulle ontslae te raak?
‘n Persoon wat kies om weerloses van hul basies menslike reg – keuses, te ontneem veroorsaak ontmensliking – nie dié van die slagoffer nie, maar ontmensliking van die self, hulself, die oortreder.
Aanspreekbaarheid
Indien jy vanuit ‘n universeel-spirituele oogpunt óf ‘n toegewyde Christelike perspektief daarna kyk, bly bogenoemde die uiterste gevalle van ontmensliking en gevolglike pogings om mense soos “garbage” / gemors te behandel.
Wat het dié skrywe dan met die verantwoordelike, menslike mens te doen? Of wat het die titel met die gelowige wat God aanbid, prys en gereeld kerktoe gaan, te doen?
Die Bybel is nie vir almal ‘n ope boek of ‘n bloudruk vir hul lewe nie, maar kom ons kyk net vir ‘n oomblik na ‘n storie wat vertel is in die Bybel. Koning Dawid (2 Sam. 12:1–7) was ‘n persoon wat God aanbid het, hy het gedigte en liedere geskryf en gesing vir God. Hy het regeer in God se Naam. Eendag toe kom die profeet Natan na Koning Dawid met ’n storie – die een van die Ryk Man en die arm man. Die storie, of eerder ‘n ‘mashal’ (מָשָל – soos dit in die oorspronklike taal staan), was ’n soort gelykenis wat so vertel is dat dit ongemerk die verdediging van die hoorder kon omseil, maar direk die gewete kon aanspreek.
Hy vertel eers vir die koning die arm man se kant, of situasie. Die Hebreeuse beskrywing van die lammetjie in die teks - 2 Samuel 12:1–4, is buitengewoon intiem in Hebreeus. Hy vertel die lam, ‘n “klein ooilam” – kivsat qetannah (כִּבְשָה קְטַנָה )
“qetannah”, was gering en kwesbaar, en vertel hy verder, die lam het by die arm man grootgeword – tigdal immô (תִּגְדַל עִּמּוֹ ). Dit is dieselfde werkwoord “gadal” wat gebruik is vir kinders wat grootgeword het by hul ouers. Die lam het uit die man se beker gedrink” – mi-kôsô tishteh (מִּכוֹסוֹ תִּשְתֶּה ). In die antieke wêreld, het dit “om uit iemand se beker te drink”, intimiteit en gelykwaardigheid beteken. Die lam is behandel soos familie. Die lam het in sy boesem geslaap” – u-ve-cheiqô tishkav (וּבְחֵיקוֹ תִּשְכַב ). Die woord “Cheiq” beteken ‘bors’. Dan sluit Natan doelbewus af met familie-taal: die lam “was vir hom soos ’n dogter” – ke-vat (כְבַת ). Dit was nie net ‘n skaap nie, dit was familieverbintenis. Ons weet - troeteldiere kán soos kinders wees.
‘En verder…’ vertel Natan vir Koning Dawid: ‘…die ryk man het baie skape gehad’, opsies, keuses, maar ‘…die ryk man het gekom, en die lammetjie geneem. In die ou Bybelse taal/vertaling staan daar - “wayyiqqaḥ” (וַיִּקַח ), wat letterlik beteken om te neem sonder om te vra.
Mens wonder, het die ryk man gedink: “Ag, ek sal sal eendag ‘n lam vir die ellendige arm man teruggee! Wat is ‘n lam tog?” Maar Koning Dawid was woedend! Hy reageer verontwaardig: “Wie de swernoot is hierdie man? Wie dink hy is hy? Hoe kan hy so iets doen?” Ek kan my net die tirade voorstel!
Totdat Natan sê: “Jy is die man!” Nét dit!
Hier is die “back story”: Koning Dawid het verlief geraak op ‘n ander man se vrou. Toe stuur hy, as Koning, en Hoof van die Weermag, daardie vrou se man na die oorlog, en nie na énige reglement nie, maar na die voorste linies. Daar waar die Koning 100% séker was dat die man in ‘n skermitseling sou omkom. En só het dit gebeur! Niemand het geweet nie – nie eers die arme man wat gesterf het nie.
Koning Dawid, die “Held”, “tree-toe-in”, en vat die arme weduwee as vrou vir hom.
Maar God het geweet en vir Natan gestuur. Natan se storie het Koning Dawid ontmasker. Dawid het weerloses getruuk, soos van “garbage”/vullis ontslae geraak én gevat wat hy wou gehad het – terwýl hy vir God liefgehad, aanbid en geprys het.
Liefde as Barometer
Liefde word dikwels gereduseer tot sentiment: “Ek hou van jou”; “Ek stem saam met jou” of “Jy laat my gemaklik voel of tuis voel.” Maar voorkeur is nie liefde nie. Die Bybel se praat oor liefde het deur kultuurtipe interpretasies verwater tot ’n sagte, aangename gevoel, eerder as ’n kragtige etiek wat menswaardigheid beskerm.
Wat het gebeur in 1 Korintiërs 13? Die hoofstuk oor “liefde”?
Dis belangrik om te sien dat 1 Kor 13 nie ’n losstaande “liefdeshoofstuk” is nie. Dit staan tussen hoofstuk 12 (oor geestelike gawes) en hoofstuk 14 (wat handel oor orde in die gemeente). Die probleem in Korinte was nie ’n gebrek aan geestelikheid nie. Daar was ’n oorvloed van godsdienstigheid sonder menswaardigheid.
Gemeentelede in Korinte het hulle gawes gebruik om status te kry. Paulus se argument was dus radikaal: jy kan al die regte gawes hê — en steeds liefdeloos wees. Paulus praat nie van eros-liefde (romanties / begeerte), of philia-liefde (vriendskap) of storgē-liefde (familie gehegtheid) nie. Hy verwys na agapē-liefde.
Wat beteken agapē? Dis nie ‘n emosie nie. Agapē beteken ’n aktiewe ingesteldheid teenoor die ander mens se waarde. Dis ‘n aktiewe, voortdurende keuse om mense se menswaardigheid te beskerm wat sê: “Jy is nie vir my ’n middel tot ‘n doel nie, maar ’n mens.” Paulus beskryf dan dié liefde verder in die teks met werkwoorde!
…om mee af te sluit…
Die uiterstes van on(t)menslikes is nou (redelik) maklik om raak te sien, maar moeiliker om te (h)erken as ’n ‘n goeie mens, se menslikheid ontrafel.
Die vraag is: “Is aanbidding nog ware aanbidding wanneer die weerloses se menswaardigheid terselfdertyd gereduseer word tot “gargabe”, of vullis? As ons as gelowiges iemand soos gemors behandel, wat sê dit dan van ons aanbidding? En wat projekteer óns optredes op die God wat ons
aanbid?
Aanbidding en die verheerliking van God, sonder liefde vir die medemens, is slegs rituele sentiment, en laat dalk ongesiens ‘n agterdeur oop.
Bronne
• Die Bybel (2020-vertaling).
• Du Toit, A. B. Room van Romeine: Bybelstudie oor Paulus se brief aan die Romeine. Bybelkor, 1980’s.
• Media-verslae oor die vrygestelde Amerikaanse Department of Justice-dokumente (“Epstein Files”, 2017 e-poskorrespondensie).
• Brown, F., Driver, S. R., & Briggs, C. A. A Hebrew and English Lexicon of the Old Testament.
• Biblia Hebraica Stuttgartensia.
• HALOT (Koehler & Baumgartner)

Metodologie-nota: Hierdie artikel is redaksioneel en struktureel ondersteun deur AI-navorsingshulpmiddels. Alle inhoud en teologiese interpretasie is vanuit die outeur se opleiding, ondervinding en navorsing beredeneer, geskryf, geredigeer, verantwoord en geverifieer.



Comments