top of page

‘n Gedig Vir Janneman

  • Writer: Chris Botha
    Chris Botha
  • Feb 13
  • 3 min read

By Chris Botha


Vroeër vanoggend[i], ek was nog in die bed, kry ek ‘n WhatsApp-boodskap van my vriend Janneman[ii]. Janneman is onlangs verkies tot vise-voorsitter van ‘n affêring.  

 

Janneman skryf vir my: ”Jy wat so lekker met woorde omgaan moet tog asseblief eendag as die inspirasie jou beetpak ietsie skryf oor die praters en makers. Ek dink vinnig maar net aan al die saampraters, teenpraters, grootpraters, twakpraters, geenpraters, moeilikmakers, vredemakers, twismakers, geraasmakers, stilmakers en so baie ander in my kring … en ek sukkel maar soms om my kop rondom al die baie praters en makers en min doeners van ons samelewing te kry”.

 

Ek antwoord vir Janneman:

“Die makers van jou kring …

(van nature kroes, kras en kordaat)

Ek laat die tema los in my kop, dan kyk ons wat gebeur.

Vasbyt, Janneman”.

 

Toe hardloop die tema los rond in my kop, die eerste twee reëls van my antwoord aan Janneman byt aan my en die gedig hieronder gebeur.

 

‘Annerlike’ word met dank geleen by Dr Anton Prinsloo[iii], en so ook die woorde ‘affêring’ (p17, as sinoniem vir ‘ding’ in Griekeland-Wes en Heilbron opgeteken, p44), ‘ghoefie’ (uit die destydse Port Elizabeth, vir ‘klaar’ of ‘klaarpraat’, p93) en ‘koue kaiing’ (uit die Noordwes-Vrystaat aangeteken as ‘vergeefse poging’, of ‘iets wat op ‘n mislukking sal uitloop’, p182). Van Dr Willem de Klerk kom ‘kroes, kras en kordaat’[iv]. Die woord ‘kannie-koenie’ (‘afgunstig-verleë’, of ‘jaloers’) is as VivA Taalkleinood deur vriendin Rina Moolman vir my op WhatsApp aangestuur (is dit toevallig dat dit vanoggend aan my gestuur is?) Van ‘kafoefel’ weet ek want dit was algemeen gebruik in my komvandaan (Wolmaransstad in die Noordwes Provinsie, toe dit nog die Wes-Transvaal was). Dit het daar twee betekenisse gehad: dit was òf ‘vry’ (soos in ‘liefkoos’, nie soos in ‘bevry’ nie) òf ‘verwar’.


 

ANNERLIKE PRATERS, MAKERS EN DOENERS

(deur Chris Botha, spesiaal vir Janneman)

 

die praters en makers van jou kring

(van nature kroes, kras en kordaat)

maak my nie kannie-koenie

 

hulle is vir my soos ‘n koue kaiing

want ek was al op my rug se naat

oor ‘n twismaker- en saamprater-boelie

 

nooit weer sal sulkes my lewe indring

hul kafoefel kan my nooit nie baat

ek wil nie doen soos hulle doen nie

 

praters en makers styg uit met saamsing

maar daar is bittermin doener-saad 

vir hulle in jou kring is dit ghoefie

 

vat maar die pyn van die affêring

moenie haat, vra na Bo vir raad

die deur na vergifnis is nooit toe nie

 

laat die sleg nie deur jou lewe dring

oordeel maar in sagte en gelyke maat

want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie

 

en lèèf, soos die lewe dit bring

elke dag, soos ‘n kous sonder naat

voluit, nooit ver van Hom af nie

 

(Hartenbos, 27 Junie 2025).



[i] Op Vrydag, 27 Junie 2025 om 09:36. Ek het besluit om nie op hierdie besondere koue Hartenbosdag vroeg op te staan nie. Omdat ek nie wil nie, omdat ek kan en omdat ek mag …

[ii] Dis nie sy regte naam nie, maar ek het redes waarom ek nie sy regte naam gebruik nie. Dink maar vir ‘n oomblik oor die moontlikhede opgesluit in kroes, kras en kordaat …

[iii] Prinsloo, A. E. 2009. Annerlike Afrikaans. Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea Boekhuis. Die woord word aangedui as ‘n selfstandige naamwoord wat, grootliks in Noordwes-Kaap, ‘ander’ of ‘ander soort’ beteken (p 19).

[iv] De Klerk, W. 2000. Afrikaners: Kroes, kras en kordaat. Goodwood: Human & Rousseau.

Related Posts

See All

Comments


Disclaimer

Advertisements displayed on this site are the sole responsibility of the third party and are not endorsed by Compassionate Confronter or its staff. The views and opinions expressed by authors in published articles are their own and do not necessarily reflect those of the editors or affiliated staff. This is an informative journal presenting a range of perspectives.

bottom of page