‘n Gedig Vir Janneman
- Chris Botha

- Feb 13
- 3 min read
By Chris Botha
Vroeër vanoggend[i], ek was nog in die bed, kry ek ‘n WhatsApp-boodskap van my vriend Janneman[ii]. Janneman is onlangs verkies tot vise-voorsitter van ‘n affêring.
Janneman skryf vir my: ”Jy wat so lekker met woorde omgaan moet tog asseblief eendag as die inspirasie jou beetpak ietsie skryf oor die praters en makers. Ek dink vinnig maar net aan al die saampraters, teenpraters, grootpraters, twakpraters, geenpraters, moeilikmakers, vredemakers, twismakers, geraasmakers, stilmakers en so baie ander in my kring … en ek sukkel maar soms om my kop rondom al die baie praters en makers en min doeners van ons samelewing te kry”.
Ek antwoord vir Janneman:
“Die makers van jou kring …
(van nature kroes, kras en kordaat)
Ek laat die tema los in my kop, dan kyk ons wat gebeur.
Vasbyt, Janneman”.
Toe hardloop die tema los rond in my kop, die eerste twee reëls van my antwoord aan Janneman byt aan my en die gedig hieronder gebeur.
‘Annerlike’ word met dank geleen by Dr Anton Prinsloo[iii], en so ook die woorde ‘affêring’ (p17, as sinoniem vir ‘ding’ in Griekeland-Wes en Heilbron opgeteken, p44), ‘ghoefie’ (uit die destydse Port Elizabeth, vir ‘klaar’ of ‘klaarpraat’, p93) en ‘koue kaiing’ (uit die Noordwes-Vrystaat aangeteken as ‘vergeefse poging’, of ‘iets wat op ‘n mislukking sal uitloop’, p182). Van Dr Willem de Klerk kom ‘kroes, kras en kordaat’[iv]. Die woord ‘kannie-koenie’ (‘afgunstig-verleë’, of ‘jaloers’) is as VivA Taalkleinood deur vriendin Rina Moolman vir my op WhatsApp aangestuur (is dit toevallig dat dit vanoggend aan my gestuur is?) Van ‘kafoefel’ weet ek want dit was algemeen gebruik in my komvandaan (Wolmaransstad in die Noordwes Provinsie, toe dit nog die Wes-Transvaal was). Dit het daar twee betekenisse gehad: dit was òf ‘vry’ (soos in ‘liefkoos’, nie soos in ‘bevry’ nie) òf ‘verwar’.
ANNERLIKE PRATERS, MAKERS EN DOENERS
(deur Chris Botha, spesiaal vir Janneman)
die praters en makers van jou kring
(van nature kroes, kras en kordaat)
maak my nie kannie-koenie
hulle is vir my soos ‘n koue kaiing
want ek was al op my rug se naat
oor ‘n twismaker- en saamprater-boelie
nooit weer sal sulkes my lewe indring
hul kafoefel kan my nooit nie baat
ek wil nie doen soos hulle doen nie
praters en makers styg uit met saamsing
maar daar is bittermin doener-saad
vir hulle in jou kring is dit ghoefie
vat maar die pyn van die affêring
moenie haat, vra na Bo vir raad
die deur na vergifnis is nooit toe nie
laat die sleg nie deur jou lewe dring
oordeel maar in sagte en gelyke maat
want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie
en lèèf, soos die lewe dit bring
elke dag, soos ‘n kous sonder naat
voluit, nooit ver van Hom af nie
(Hartenbos, 27 Junie 2025).
[i] Op Vrydag, 27 Junie 2025 om 09:36. Ek het besluit om nie op hierdie besondere koue Hartenbosdag vroeg op te staan nie. Omdat ek nie wil nie, omdat ek kan en omdat ek mag …
[ii] Dis nie sy regte naam nie, maar ek het redes waarom ek nie sy regte naam gebruik nie. Dink maar vir ‘n oomblik oor die moontlikhede opgesluit in kroes, kras en kordaat …
[iii] Prinsloo, A. E. 2009. Annerlike Afrikaans. Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea Boekhuis. Die woord word aangedui as ‘n selfstandige naamwoord wat, grootliks in Noordwes-Kaap, ‘ander’ of ‘ander soort’ beteken (p 19).
[iv] De Klerk, W. 2000. Afrikaners: Kroes, kras en kordaat. Goodwood: Human & Rousseau.

Comments